HALLO
Jou alles-in-een-tuingids, het ons verlede jaar se Tuis Werf genoem. En dis daardie spesiale uitgawe wat ’n idee by my laat posvat het: ’n algehele regruk van die klein stoep en tuintjie voor my skakelhuis in Kaapstad. Ek het begin droom van geboude plantbakke met bougainvilleas en vlinderbos, klompiestene op die vloer, ingeboude bankies met gemaklike sitplek, ’n muur van patroonteëls waar jy inkom en met die paar trappies opstap na die voordeur. Ook ’n losstaande vuurput. Kruipvy wat die binnemure toegroei, en perfekte beligting. En bowenal, die pièce de résistance: parkeerplek vir my kar in my werf. Die plan is eenvoudig, volgens my. Verhoog die voorste muur, genoeg sodat ’n garagedeur daarin pas. En dan moet ek ’n stukkie van die smal stoep wat dwars oor die lengte van my huis loop,…